Kanker is die eeste keer by my gediagnoseer in Januarie 2001, gelukkig kon hulle die gewas verwyder. Die diagnose was 50% borskanker en 50% ander kankers.
Na ses chemoterapiebehandelings en 33 bestralings was ek tot April 2009 in remissie.
Tydens ‘n onlangse mammogram is daar weer ‘n gewas ontdek. Ek kon my dokter eers weke later sien. Sy het aanbeveel dat ek my bors wat die probleme veroorsaak, laat verwyder om verdere verspreiding te voorkom.
Ek was baie ontsteld en het baie gehuil, maar hier het my ‘Journey’ begin....
Ek is een week gegee om te besluit wat ek wil doen. Na ure se trane het ek op ‘n bilaterale mastektomie besluit. Ek wou nie as ‘n geskende vrou gesien word nie, maar het myself goed begin voorberei vir die operasie. Ek het net gebid dat Vader en Sy genade my moet dra in hierdie tyd, want ek kon dit nie alleen doen nie.
Ek het so baie sms’e, oproepe en liefde ontvang. Dit het gevoel asof ek op engele se vlerke ry. My operasie was suksesvol en my wonde het mooi genees. Ek het nie kans gesien vir inplantings nie en op ‘n dag stuur God vir Frieda na my. Nie veel later nie ontvang ek twee prosteses. Ek was so in my skik met my ‘nuwe’ borsies.
Vader het dit wat Hy weggeneem het weer ‘vervang’. Ek het nie besef dat ek my borsies so mis nie, maar die dag toe ek my prosteses gaan aanpas het, het ek besef dit is deel van vrouwees en ek het dit gemis.
Baie dankie aan Journey of Hope vir die teruggee van my vroulikheid!
|